Miepsie vlug na motor rol op deurpad na Pretoria

Miepsie die hond. Foto: Verskaf

’n Troeteldiereienaar is angstig opsoek na haar hond, na dié weggehardloop het van ’n ongelukstoneel naby Pretoria.

Ria Richards van Witbank (eMalahleni) sê sy, haar man en hul twee honde was op pad na Montana verlede Donderdag, toe hul voertuig op die deurpad buite Pretoria rol.

“Ons was op pad om vakansie te gaan hou met ons splinternuwe karavaan,” vertel Richards.

“Ons los nooit ons hondekinders alleen by die huis of by ’n hondeverblyf nie, so ons sou in Pretoria stilhou om hulle by my suster in Montana af te laai.”

Richards sê dit het gereën en op die gladde pad het hul karavaan gegly.

“Ons motor het toe gerol,” vertel sy.

“Na ons tot stilstand gekom het, het Miepsie (een van die twee honde) op ’n manier uit die kar gekom.”

LEES OOK: Honde gered na dae toegesluit op leë Montana-erf

Richards sê sy, haar man en honde is merkwaardig ongedeerd na die ongeluk.

“Miepsie, ons Fox Terrier, was egter erg in skok en het dadelik begin hardloop vir die heuwel langs die hoofweg,” sê sy.

“Ek het agter haar aangeroep en sy het een keer haar kop omgedraai voor sy verskrik aangehou hardloop het.”

LEES OOK: LUISTER: Pta-motoris jaag weg van weggooi-hond

Richards sê ’n ooggetuie het haar later ingelig dat ’n trokdrywer ’n hondjie, wat soos Miepsie lyk, langs die pad opgetel het.

“Die trokdrywer het blykbaar in die rigting van Mamelodi gery,” sê sy.

“Ek het orals gaan navrae doen – by die DBV, veeartse en mense in die omgewing – maar sover kon ons nog glad nie vir Miepsie opspoor nie.

Richards beloof ’n kontant beloning aan enigiemand wat Miepsie veilig aan haar kan terugbesorg.

“Sy is my kind. Ek gaan nie ophou soek totdat ek haar kry nie.”

 

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

  AUTHOR
Corlia Kruger
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Stiffer water restrictions for Pretoria