Twee jong klubrugby sterre slaan kontrakte in Frankryk los

Daar bestaan steeds ’n persepsie onder jong rugbyspelers dat die deure van beroepsligas vir hulle toeklap as hulle nie op die skoolbanke reeds deur plaaslike provinsiale talentjagters raakgesien en gekontrakteer word nie.

Hierdie persepsie is natuurlik onwaar en die verhaal van twee jong sterre in vanjaar se o.20 rugbyspan van die Centurion Rugbyklub is ’n klinklare bewys daarvan. Terselfdertyd getuig dié verhaal ook van die kwaliteit van junior klubrugby in Pretoria, wat die afgelope paar seisoene dramaties verbeter het. Die Blou Bulle se o.20 en o.21 ligas op klubvlak lok deesdae spelers wat goed genoeg geag word om dalk later internasionale deurbrake in ander lande te maak.

Heath Backhouse en Hendré Eloff het verlede week Frankryk toe vertrek om vir die professionele klub Biarritz Olympique in die o.21 liga te speel, nadat albei twee-jaar kontrakte by dié klub losgeslaan het. Die klub in gesetel in die stad Biarritz aan die suid-westelike kus van Frankryk naby die Spaanse grens. Biarritz Olympique se senior span speel deesdae in die Franse Tweedeliga, maar die bestuur en eienaars het groot planne om hul voormalige glorie te herstel. Biarritz Olympique was in die vorige dekade een van Frankryk se top klubs en het in 2002, 2005 en 2006 die Franse Top 14 liga gewen, terwyl hulle ook in 2006 en 2010 in die Heinekenbeker eindstryd betrokke was.

Backhouse en Eloff is goeie vriende wat reeds sedert hul laerskooldae by Laerskool Wonderboom saam rugby speel. Op hoërskool is Eloff egter deur Garsfontein gewerf, terwyl Backhouse by Montana gematrikuleer het. Albei het in hul matriekjaar in 2016 vir Bloubul skolespanne uitgedraf. Eloff (stut) was deel van die Akademiespan, terwyl Backhouse (slot) die Noordvaal skoleweek-span gehaal het. Tog kon nie een van hulle plaaslik professionele kontrakte losslaan nie.

Vroeër vanjaar het dié twee by die Centurion Rugby Instituut aangesluit. Dié instituut is by die Centurion Rugbyklub gesetel en Backhouse en Eloff was dus deel van die suksesvolle o.20 span van dié klub wat vanjaar vir die eerse keer in meer as ’n dekade die Blou Bulle se o.20 klubliga gewen het.

Die gewese Springbok agtsteman en Bulls speler, Jacques Croné, wat vir byna ’n dekade in Frankryk rugby gespeel het, is deesdae betrokke by die Global Sports Management groep, terwyl hy ook as afrigter en werwingsbeampte by Biarritz Olympique betrokke is. In samewerking met Nico Monteiro van die Centurion Rugby Instituut het hy spelers in Suid-Afrika kom werf vir Biarritz se junior span. Backhouse en Eloff was die eerste twee manne wat kontrakte losgeslaan het ná hul puik spel vir Centurion Rugbyklub se o.20 span.

Backhouse het aan Rekord gesê dat hy dié geleentheid met albei hande sal aangryp en dat hy langtermyn planne in Frankryk het. Hy droom daarvan om oor ’n paar jaar vir die Franse Hane uit te draf.

Eloff wil ook so lank as moontlik professionele rugby in Frankryk speel. Hy het egter nou reeds planne om ná se speeldae as afrigter by die sport betrokke te bly.

Albei die spelers het met die hulp van Global Sports Management ’n blitskursus in Frans gevolg en hulle sou hulself met basiese taalvaardigehde kon help toe hulle verlede week daar geland het. Een van hul prioriteite van die veld af sal beslis wees om die taal behoorlik onder die knie te kry om sodoende by die nuwe kultuur aan te pas en hul verblyf in Frankryk makliker te maak.

Volgens Monteiro is daar ook belangstelling uit Frankryk vir nog twee van die Centurion Rugby Instituut se spelers. Carl Wijburgh (haker) en die slot Mauritius Claasen, wat ook vanjaar vir Centurion Rugbyklub se o.20 span uitgedraf het, is albei in die Global Sports Management groep se visier en Monteiro glo dis ’n kwessie van tyd voor hulle aanbiedings sal kry.

Vir meer inligting oor die Centurion Rugby Instituut, kontak Nico Monteiro by 082-820-4655.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
sport journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Harlequins president honoured by the club