Stormers klop Bulls in drieëfees op Loftus Versfeld

Die Bulls se afrigter, Nollis Marais, se tweede en laaste SuperRugby seisoen het geëindig soos dit begin het – met ’n nederlaag teen sy span se aartsvyand, die Stormers.

Die Kapenaars het die Bulls Saterdagmiddag met 41-33 op Loftus Versfeld geklop in ’n wedstryd wat elf drieë opgelewer het.

Daar was werklik niks meer as trots en eer op die spel voor die afskop van hierdie wedstryd nie. Hierdie feit het die gevolg gehad dat die twee spanne beide uitgedraf het met ’n positiewe gees en hulle was duidelik daarop uit om die kleinerige skare op Loftus Versfeld te vermaak.

Hoewel dit goed was om die positiewe aanslag te sien, was die gevolg daarvan ook redelike slordige spel met tye. Hanteerfoute was volop, maar so ook die drieë, waarvan daar teen rustyd reeds ses was.

Die uitslag sou dus bepaal word deur die span wat die beste kon teer op die opponent se foute. ’n Mens het egter tog die indruk gekry dat die Bulls ’n bietjie harder moes werk vir hul punte, aangesien die Bulls se verdediging soms baie eina was en dít het die lewe vir die Stormers makliker gemaak.

Die tweede helfte het nóg vyf drieë opgelewer, maar die slordige spel aan beide kante het ook voortgeduur.

Dit is waarskynlik nie die tipe wedstryd wat die Stormers nodig gehad het nie, veral as in ag geneem word dat hulle volgende week ’n strawwe kwarteindstryd teen die Chiefs tegemoet gaan. Hulle sou dus waarskynlik meer gebaat het by ’n wedstyrd waar hul fokus en konsentrasie onder groter druk getoets kon word.

Wat die Bulls betref sal die span, die bestuur én die ondersteuenrs waarskynlik so gou moontlik van die 2017 seisoen wil vergeet. Dit was amptelik die Bulls se swakste seisoen in 15 jaar en daar sal beslis nog heelwat woelinge op Loftus Versfeld wees voor die manne in Ligblou volgende jaar weer probeer om iets van hul voormalige glorie te herstel.

 

PUNTEMAKERS:

BULLS: 33 Drieë: Jason Jenkins, Duncan Matthews, Jesse Kriel (2), Piet van Zyl. Doelskoppe: Tian Schoeman (3)  Tony Jantjies (1).

STORMERS: 41 Drieë: Cheslin Kolbe, Sikhumbuzo Notshe, Dillen Leyds, Siya Kolisi, Damian Willemse, Seabelo Senatla. Doelskoppe: Damian Willemse (3), Cheslin Kolbe (1). Strafdoele: Damian Willemse (1).

Skeidsregter: Shuhei Kubo

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
sport journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Bulls name Super Rugby training squad and unveil the future of Nollis Marais