Gesoekte diewe op heterdaad betrap in die noorde

Kaptein Annamarie Verster en adjudant-offisier Wayne van Wyngaard. Foto: Verskaf

Sinoville-polisie het twee gesoekte diewe verlede week op heterdaad betrap toe dié besig was om batterye van ’n selfoontoring in die noorde van Pretoria te steel.

Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê die diewe is Woensdag op die hoek van Vinko- en Kurumanstraat in Sinoville voorgekeer.

“Omstreeks 07:20 was kaptein Annamarie Verster en adjudant-offisier Wayne van Wyngaard op ’n misdaadvoorkomingspatrollie toe hulle die twee verdagtes gewaar,” sê Van Dyk.

“Die twee mans, oorspronklik van Zimbabwe, het glimbaadjies aangehad. Toe die beamptes ondersoek instel, sê die mans hulle ruil batterye vir Vodacom om.”

LEES OOK: Motorfietsdiewe terug in Doornpoort

Van Dyk sê die beamptes het batterye agter op die verdagtes se ongemerkte voertuig, ’n wit Nissan bakkie, gesien en onraad vermoed.

“Hulle het navrae gedoen en vasgestel dat die mans nie vir Vodacom werk nie,” sê Van Dyk.

“Hulle het breekgereedskap in een van die verdagtes se besit gevind asook in die bakkie.”

Van Dyk sê een van die mans het probeer weghardloop, maar is vinnig voorgekeer.

“Beide is in hegtenis geneem.”

Van Dyk sê vier batterye tot die waarde van R24 000 is in die Nissan-bakkie gevind.

“By die polisiekantoor is hul profiele nagegaan en gevind dat die twee mans verbind word met agt misdaadoortredings in Sinoville asook 20 verskeie sake landwyd.”

LEES OOK: Dieseldiewe gevang

Sinoville-stasiebevelvoerder kolonel Maria Roberts bedank Verster en Van Wyngaard vir hul uitstekende diens.

“Die Sinoville-polisiespan bly toegewyd aan hul gemeenskap en stel inwoners se veiligheid eerste,” sê Roberts.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

  AUTHOR
Corlia Kruger
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
OPVOLG: Noord-slagoffer sterk goed aan na hondbyt