‘Don’t shoot me, don’t shoot me’ Pa se laaste woorde voor moord

Manie St. Clare Bothma. Foto: Verskaf.
Manie St. Clare Bothma. Foto: Verskaf.

“Ons is gebroke. Ons lewens is vir altyd verander.”

Só vertel ’n emosionele Dali Emanuel Bothma (27), seun van Manie St. Clare Bothma (63), die Karenpark-kunstenaar wat verlede Woensdag in sy huis vermoor is.

Dali sê hy en sy pa was alleen tuis in die Eagle Inn-veiligheidskompleks toe hy ’n geraas in die vroeë oggendure gehoor het.

“Toe ek uit my kamer stap, sien ek ’n man met ’n groot handwapen in die sitkamer. Ek is toe terug na my kamer en het die deur toegeslaan,” sê Dali.

“Ek kon voel hoe die man aan die handvatsel trek. Toe hy wegstap, hoor ek toe hoe my pa skree, ‘Take what you want, just don’t shoot me’. Dit is toe ek die skoot hoor.”

Dali sê hy het gedink die skoot is in die dak geskiet.

“Ek hoor toe weer, ‘Don’t shoot me. Don’t shoot me’. Ek was toe nog in my kamer. Ek het toe ’n knipmes uit my laai gegryp om vir my lewe te veg,” sê hy.

Toe Dali uitstorm, het sy pa al dood in die sitkamer gelê. Al wat hy kon hoor was die gedreun van sy pa se Kia Picanto wat wegry.

“Ek kon net skree, ‘Daddy! Daddy! Daddy’,” sê Dali.

Hy het toe by die huis uitgehardloop en om hulp geroep. ’n Buurvrou in die kompleks het ADT gebel wat binne minute saam met paramedici opgedaag het.

“Die paramedici was lank met my pa besig, maar na ’n ruk het die een vrou uitgetap en gesê my pa is dood. Hy is in sy maag geskiet en die koeël het ’n hoofslagaar in sy been getref,” vertel Dali tussen trane deur.

“En al wat hulle gevat het, was sy selfoon en kar. Hy is daarvoor doodgemaak.”

Dali vertel dat sy hele gesin jare gelede hul geloof van Christendom na Islam verander het.

“Ek en my broer Picasso het my pa self gewas en hom die aand 19:00 al begrawe, soos vereis word.”

Hy sê die moord het die hele familie geruk, en dat hy nou terapie nodig het om die verlies te verwerk.

“Ek hoop net dat die skuldiges gevang word.”

Akasia-polisiewoordvoerder konstabel Reneilwe Makwalo sê ’n saak van moord word ondersoek, maar dat geen ander besonderhede verskaf kan word nie, want die saak is in ’n sensitiewe stadium.

Enigiemand met inligting oor die moord of die gesteelde voertuig kan die Akasia- polisie by 012-564-0700 bel.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.
  AUTHOR
Kristian Meijer
Journalist

Latest News

COMMENTS

ptaeast pta_moot ptacenturion getitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Water has been leaking for over five months in Chantelle, in the north of Pretoria. Photo: Reitumetse Mahope.
Metro failing leaking pipes, despite looming water crisis