OPVOLG: Pta vrou herstel na militêre man haar skiet

Carine van Staden. Foto: Verskaf

Die familie van ’n 28-jarige vrou wat deur ’n lid van die weermag geskiet is, vra dat geregtigheid geskied.

Johan van Staden sê dis byna drie weke nadat sy dogter, Carine, in die bors geskiet is in die noorde van Pretoria.

Die man verantwoordelik vir haar besering is teen Maandag nog nie in hegtenis geneem nie.

“Carine is ’n week gelede uit die hospitaal ontslaan,” vertel Van Staden.

“Sy het nog baie pyn en haar long, waardeur die koeël is, se funksie is swak.”

LEES OOK: NUUSFLITS: Pta vrou (28) geskiet deur militêre man

Van Staden het vroeër aan Rekord verduidelik hoe sy dogter van naby geskiet is deur ’n “‘VIP protector’ van ’n senior offisier”.

Carine en haar verloofde, Johan Harmse, was op 10 Augustus omstreeks 18:00 op pad na vriende toe die skietvoorval plaasgevind het.

“Hulle het deur die Poort gery op haar verloofde se motorfiets toe ’n voertuig hulle van die kant af ligtelik stamp.”

Van Staden sê Harmse het die motor, wat van die toneel af weggery het, agtervolg.

“Hulle het hom gevolg tot by Braam Pretoriusstraat, waar hul langs die motor stilgehou het,” sê Van Staden.

“My dogter het van die motorfiets afgeklim en aan die bestuurder se ruit gaan klop om sy aandag te kry.”

“Die bestuurder het sy venster afgedraai en sonder ’n woord, ’n vuurwapen op haar gerig en geskiet.”

LEES OOK: OPVOLG: Terugslag vir Pta vrou na militêre man haar skiet

Van Staden sê ’n geskokte Harmse het van sy motorfiets afgespring om Carine te help.

“Die man in die motor het toe sy vuurwapen ook op hom (Harmse) gerig.”

“Hy het dadelik sy hande in die lig gegooi en grond toe geval sodat die man nie hom ook moet skiet nie.”

Na die motoris weggery het, is nooddienste na die toneel ontbied.

“Die man wat my dogter geskiet het, is self na die polisiekantoor,” het Van Staden gesê.

Volgens hom het die skieter aangevoer dat hy onder die indruk was dat die twee mense op die motorfiets hom probeer kaap het.

“Hy was eers net aangekla vir die afvuur van ’n vuurwapen en was toegelaat om weer te loop.”

Polisie het later bevestig dat die klag verander het tot poging van moord.

LEES OOK: Vrou vertel van angsnag

Sinoville-polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk sê daar is beeldmateriaal aan polisie voorsien van ’n GoPro-kamera wat Harmse aan sy valhelm gedra het.

“Die polisie-ondersoek is afgehandel en ons wag op die beslissing van die nasionale vervolgensgesag,” sê Van Dyk.

Rekord het navrae by die provinsiale polisiekantoor om uit te vind wat die rede is hoekom die saak so lank sloer, maar het nog geen terugvoer ontvang nie.

 

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

 

  AUTHOR
Corlia Kruger
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Runaway suspect nabbed