OPVOLG: Pta vrou sterk goed aan na skiet voorval

Carine van Staden is Donderdagaand geskiet. Foto: Verskaf

’n Pretoriase vrou sterk goed in die hospitaal aan nadat sy Donderdag in die bors geskiet is.

Johan van Staden sê sy dogter Carine (28) word steeds in die intensiewe sorgeenheid behandel na ’n koeël haar hart glo met millimeters gemis het.

“Sy is van so naby geskiet, dat die koeël reg deur haar is,” sê Van Staden.

“Sy kan die geluid van haar longe, deur die oop gat in haar bors, hoor soos sy asemhaal.”

Carine is Donderdagaand omstreeks 18:00 in die Sinoville-omgewing geskiet.

Die man wat haar geskiet het, ’n lid van die weermag, is nog nie in hegtenis geneem nie.

Daar word wel ’n klag van poging tot moord ondersoek, het polisie bevestig.

Van Staden het Vrydag die gebeure aan Rekord beskryf:

“Carine en haar verloofde, Johan Harmse, het saam op sy motorfiets na vriende toe gery die aand.”

Lees ook: NUUSFLITS: Pta vrou (28) geskiet deur militêre man

“Hulle het deur die Poort gery toe ’n voertuig die kant van hul motorfiets tref.”

Van Staden sê Harmse het die motor, wat van die toneel af weggery het, agtervolg.

“Hulle het hom gevolg tot by Braam Pretoriusstraat, waar hul langs die motor stilgehou het,” sê Van Staden.

“My dogter het van die motorfiets afgeklim en aan die bestuurder se ruit gaan klop om sy aandag te kry.”

Volgens Van Staden het die bestuurder sy venster afgedraai en, sonder ’n woord, Carine met ’n vuurwapen geskiet.

’n Geskokte Harmse het van sy motorfiets afgespring om Carine te help.

“Die man het toe sy vuurwapen op hom (Harmse) gerig,” sê Van Staden.

“Hy (Harmse) het dadelik sy hande in die lig gegooi en op die grond neergeval.”

Na die motoris weggery het is nooddienste na die toeneel ontbied.

“Dis vir my steeds so ongelooflik dat die polisie nie die man dadelik in hegtenis geneem het nie,” sê Van Staden.

“Hy is bekend aan hulle en daar was soveel ooggetuies wat ook die registrasienommer van die weermag se voertuig gekry het.”

Van Staden sê die beskuldige het glo aan polisie verduidelik dat hy onder die indruk was dat hy gekaap word.

“Al was dit so en kon hy dalk nie my dogter se gesig sien in die donker met haar valhelm aan nie, moes hy steeds van beter geweet het as om net te skiet.”

Sinoville polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk het vroeër aan Rekord bevestig dat polisie besig is met ’n volskaalse ondersoek.

Van Staden sê: “My dogter doen goed – miskien té goed.”

“Ons bly versigtig vir ’n terugslag, maar is baie optimisties dat sy heeltemal sal herstel.”

Carine van Staden saam met haar hondekind. Foto: Facebook

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  AUTHOR
Corlia Kruger
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
OPVOLG: Pta vrou herstel na militêre man haar skiet