Steeds min te kies tussen Carltonbeker spanne

Die Carltonbeker toernooi is amper by die halfpadmerk en steeds is daar geen duidelike gunstelinge wat ver bo die res uitstaan nie.

In die afgelope naweek se drie wedstryde kon nie een van die wenspanne ’n groter punteverskil as vyf punte kry nie, wat beteken dat al drie die kragmetings tot in die laaste sekondes in die weegskaal was.

Slegs vyf punte skei die eerste vyf spanne op die puntelys, terwyl die Dragons ten spyte van hul agterstand nog lank nie uit die wedloop is nie.

* Die stryd tussen Naka Bulle en die Dragons, wat met 25-24 deur eersgenoemde gewen is, sou aanvanklik op Loftus Versfeld se A-veld as voorwedstryd vir die Bulls se SupeRugby kragmeting teen die Highlanders afgehandel word. Die skielike reënweer wat Pretoria egter oor die naweek beleef het, het veroorsaak dat die wedstryd na die B-veld verskuif is.

Soos Rekord vroeër reeds genoem het, het die Dragons vanjaar weer ’n baie goeie span en kan hulle ná vier nederlae steeds nie afgeskryf word as moontlike halfeindstryd kandidate nie. Dit het hulle Saterdag teen Naka Bulle bewys in ’n spannende stryd wat uiteindelik enige kant toe kon swaai.

Teen rustyd was die twee spanne nog gelykop met 10 punte elk.

Na rustyd het die gure weer vererger toe dit weer begin reën het. Die rugby was egter steeds kookwater en die spanne het albei aanvallend gespeel.

Aanvanklik wou dit lyk of die manne uit die Moot besig was om beheer van die wedstryd oor te neem, nadat ’n drie en ’n strafdoel aan hulle ’n voorsprong van agt punte gegee het.

Die Dragons het egter gewys dat hulle besig is om in te haal by die res wat wedstrydfiksheid betref en hulle het verwoed begin aanval. ’n Drie deur heelagter Brandon Venter het die wedstryd weer in die weegskaal geplaas.

Uiteindelik het dié wedstryd baie opwindend geëindig. Met enkele minute se speeltyd oor het Naka Bulle se reserwe voorryman, Lawrence Cleminson, ’n dryfbeweging afgerond. Heelagter Gaybrin Smith het geslaag met ’n redelike moeilike doelskop, wat uiteindelik bepalend sou wees ten opsigte van die uitslag.

Die Dragons het daarna weer met mening ingeklim en toe Naka Bulle se Bloubul-senter, Marquit September, ’n oordeelsfout maak met ’n grondskoppie in sy eie gebied, is dit deur Edwin Olivier opgepik. Hy het in die hoek gaan druk en Brendon Venter het met die doelskop geslaag, waarna die eindfluitjie geblaas het.

* In Groenkloof het Centurion weer op die wenpad gekom toe hulle die tuisspan, Quins-Bobbies, in nog ’n spannende stryd met 32-27 geklop het.

Nico Luus en gert Muller se manne was teen rustyd nog die voorlopers (20-17), maar Centurion het weer gewys dat hul teenstanders vir 80 minute moet fokus of die prys daarvoor betaal.

Dit was veral die titaniese stryd tussen die twee stewige pakke voorspelers wat weer die kwaliteit van die rugby wat vanjaar in hierdie liga opgedis word, onderstreep het. Die manne het mekaar voorlangs opgedreun, terwyl nie een van die twee agterlyne skaam was om die bal lug te gee nie. Albei spanne het ook bonuspunte behaal deur elk vier keer te gaan druk.

Centurion se vaart agterlangs het hulle in staat gestel om meer suksesvol met die agterlyn aan te val en drie van hul drieë is deur buite-agterspelers gedruk. Daarenteen is drie van Quins-Bobbies se drieë deur voorspelers gedruk, wat die gevaar van hul goed-gedrilde agtal onderstreep.

* Die stryd tussen die 2017 Varsitybeker kampioen (Tuks) en die 2016 Gouebeker kampioen (Impala) is danksy vyf punte deur die skopskoen van losskakel Marais Schmidt met 20-15 deur Tuks gewen.

Albei spanne het twee keer agter die doellyn gaan kuier en slegs Schmidt se skopskoen het uiteindelik die verskil gemaak.

Tuks het sterker as die manne van Rustenburg geëindig, nadat hulle teen rustyd nog met 6-8 agter was. Op daardie stadium het Impala reeds hul eerste drie gedruk, terwyl Tuks albei hul drieë in die tweede helfte gedruk het.

Een van Tuks se min spelers wat uit die Varsitybeker toernooi oor is in hul Carltonbeker veldtog, die vlugvoetige vleuel, Dewald Naudé, was vir albei sy span se drieë verantwoordelik.

Vir Impala het die hardwerkende slot, Isak Deetlefs, en die binnesenter, McDonald Duma, die doellyn oorgesteek.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
sport journalist

find your
dream home

looking for an
affordable
apartment

List your Property

It's easy in only three
simple steps...

find professional
services in
your area

Locate a business
operating in
your area

List your Business

Want more customers? They're online right now, searching for businesses like yours. Place your ad now...

Latest News

COMMENTS

ptaeast pta_moot ptacenturion getitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Tuks wen Lucas Strachan skild

Thanx for your referral. We have no doubt your friends will love our newsletter as much as you!

Don't forget to verify your email.

SUBSCRIBE
to our free NEWSLETTER
!
SUBSCRIBE to our FREE newsletter.




SELECT your titles:

Centurion Rekord
Rekord East
Rekord Moot
Rekord North


Your details:


Your friends:

I didn't sign up for this
I'd like to see and read more... (Please indicate in comments section below)
I'm relocating (Please indicate where to)
Other